Inspirational Stories

Getuienis


by Wynn Cameron Thompson


Ná baie jare van rebelsheid leef ek nou die Here se roeping op my lewe uit. Daar was baie versoekings langs die pad, maar ook baie seëninge, bevestiging en bemoediging! Ek wil u graag van 'n paar wonderwerke wat die Here in my lewe gedoen het vertel, en hoe Hy my tot dié punt gebring het.

Ek het grootgeword in 'n Christelike huis, maar ten spyte daarvan is ek etlike kere gemolesteer sonder my gesin se medewete. Die eerste keer was dit 'n bendeverkragting (ek was ses jaar oud) en ander kere was dit deur verwronge volwassenes wat "lief" was vir seuns. Al hierdie kere, behalwe die bendeverkragting, was onder die dekmantel van liefde en teerheid. Ek kon dit nooit oor my hart kry om my ouers te vertel nie. In ons gesin het ons nie openhartige gesprekke met mekaar gehad nie en ek kon nooit die gevoelens van vrees, skuld of skaamte uitspreek nie. Op 'n baie vroeë ouderdom het satan begin om beide myself en my roeping te vernietig.

Toe ek 11 jaar oud was, het 'n 25-jarige vrou wat in ons kerk was, my gemolesteer. Teen daardie tyd het ek abnormale seksuele gedrag as normaal ervaar. Ek het vrees ervaar, maar het die aandag en gevoelens geniet. My liggaam was vroeg volwasse, maar my verstand was steeds dié van 'n elfjarige. 'n Ander vrou wat op die voorval afgekom het, het my ouers gebel en hulle ingelig oor die voorval. Ná die episode onthou ek net hoe my pa gesê het dat ek op my knieë moet gaan en vir vergifnis bid. Ek het nie verstaan wat aangaan nie, maar ek het gedoen wat my pa gevra het. Ek het weer vrees ervaar saam met gevoelens van verwarring en vernedering. Ek het aaklig gevoel, omdat ek gedink het dat dit my skuld was dat al hierdie dinge gebeur het.

As 'n kind het ek verstaan dat seks met 'n vrou sleg is en om seksuele gevoelens te ervaar, sonde was. Ek het bewus geword van my seksuele ontwaking en ek het nie geweet hoe om hierdie sterk behoefte te hanteer nie. Die regte worsteling het begin.

Gevolglik het ek in die kloue van homoseksualiteit verval toe 'n man my 'n jaar later genader het met die doel om my te molesteer. Ek het die aandag en die liefde van 'n man nodig gehad. Ek was honger vir my pa se manlike aanvaarding en ek het dit nie gekry nie. My lewe het al moeiliker en verwarrend geword. Ek het abnormale seksuele gedrag as "normaal" in my lewe aanvaar.

Ek het seksueel aggressief geraak. Slegte seksuele gedrag het veroorsaak dat ek op twee geleenthede gearresteer was. My ouers was baie verward oor my gedrag en het hulp by ons pastoor gaan vra. Die pastoor het voorgestel dat hulle my na 'n gebedsgroep bring sodat hulle die "duiwel van homoseksualiteit kan uitdryf". Ek was 14 jaar oud. Ek onthou hoe ontsettend bang ek was. My liggaam het geskud van vrees soos hulle vir my gebid het. Ek het verdoem en verwerp gevoel. Ná die tyd was ek in 'n verskriklike toestand en ek het meer seergemaak en verward gevoel as ooit tevore. Nogsteeds het één ding bly staan... ek was honger vir manlike liefde, aanraking en toegeneentheid. Dáái tyd het ek nie besef dat ek mishandel word deur "volwassenes wat omgee" - volwassenes wat regtig nie van beter geweet het nie.

In my verwardheid het ek baie geheimsinnig geword. Ek het vrouens begin wantrou en glad nie gehou van die mag wat hulle oor my het nie. Later het ék die een geword wat ander mishandel - alles onder die dekmantel van "liefdevolle optrede". Ek kon nie verstaan dat mense gedink het daar's iets fout met my nie. Ek het goed gevoel oor my gevoelens en dit het soos 'n goeie vriend geraak. Ek het al hoe meer volwassenes wantrou want tot dusver het ek slegs deur hulle verdoem gevoel. Daar was stilte van God se kant af. Sy realiteit het nie in my lewe bestaan nie.

In my soektog na my eie identiteit was ek al hoe meer aangetrokke tot Hollywood. Ek het 'n professionele sanger geword en in advertensies en films opgetree. Ek was in my element. Ek moes myself bewys en aanvaarbaar wees vir ander. Ek was jonk, aantreklik en oorgehaal om sukses te behaal. Ek het nooit daarin geslaag nie en my sukses was telkens van korte duur.

Een van die duiwel se strikke waarin ek getrap het was dwelms. Dit was vir my 'n maklike ontvlugtingsroete. My leuse was "sex, drugs and rock-and-roll" (in daardie volgorde). Ek het elke soort dwelm beproef wat beskikbaar was. Ná 'n drie maande sangtoer deur Sentraal-Amerika, aanvanklik 'n sukses en later 'n mislukking, het ek teruggekeer na Hollywood, dwelms en sekuriteit wat vertroosting sou bied.

My ouers het niks van my geheimsinnige lewe geweet nie, omdat ek as tiener geleer het hoe om dinge weg te steek. Hulle kon net die uiterlike tekens van sonde en rebelsheid, soos my arrestasie en dwelmmisbruik sien. Hulle was verward en het geen begrip gehad nie. Ek het geweet ek was besig om hulle seer te maak, maar ek het nie geweet hoe om op te hou nie. In my vroeë twintigerjare het ek besluit: "Dit is hoe ek is en ek moet daarmee saamleef."

Ek was etlike kere in en uit die tronk. Op 20 is ek nóg 'n keer gearresteer. Hierdie keer het ek baie depressief geraak. My ouers het my kom besoek. Hulle het gesê hulle gaan nie my borgtog betaal nie. Ek kon dit nie glo nie! Ek het weereens verlate gevoel. Ek het na my sel teruggekeer en na die Here begin roep. Hy het my gehoor en vir 'n kort rukkie was daar 'n merkbare verandering in my lewe. Vir die eerste keer het ek besef dat God 'n spesifieke doel met my lewe het. In daardie tyd wou die Here 'n totale verandering in my lewe bring. Die pyn van die verlede was te veel om te hanteer en ek het my verlede vir die Here probeer wegsteek.

Drie jaar ná hierdie "merkwaardige" omwenteling, het ek geval... hard geval! Dit was soos die verhaal waar Jesus die duiwel uit die man gedryf het en die duiwel tevergeefs na ander blyplek gesoek het. Hy het na sy oorspronklike tuiste teruggekeer en gevind dat dit steeds onbewoon was. Toe bring hy sewe erger duiwels om in die man te woon. Ek was erger daarvan af as voorheen!

Party mense sal sê ek het nie tot "werklike inkeer" gekom nie. Ek glo God het my gewys dat Hy ál die pyn uit my verlede wou genees voordat Hy my in die bediening kon gebruik. Ek het Hom nie voorheen toegelaat om daardie spesifieke werk in my lewe te doen nie. Al wat ek wou doen is om volstoom voort te gaan om vir die Here te werk. Dit was 'n manier om daardie seer uit die verlede te bedek. God, op sy geduldige wyse, het my geleer dat Hy 'n algehele verandering in ons lewens wil bring. Ons moet Hom net toelaat. Hy sit nie net 'n pleister op om die wond te bedek nie, maar Hy wil diep binne in daai versteekte plekkies kom om skoon te maak, te genees en dit met Sy liefde te vul. Ek het dit nie toe verstaan nie. Ek het van God se vergifnis geleer en dít het my weer in staat gestel om ander te vergewe. En Hy leer en genees my nogstééds.

Van toe af tot ongeveer 1985 het ek in rebelsheid teenoor God geleef. Ek het niks daarvan gedink om ander mense te misbruik sodat my behoeftes aan manlike erkenning en, wat ek gedink het "ware liefde" is, bevredig kon word nie. Deur hierdie tydperk het my ma nooit ophou met bid nie. Sy het nooit ophou vertrou nie. God het vir haar 'n belofte gegee en sy het volkome op Hom vertrou.

Geleidelik het die Here my teruggebring na Hom. Ek het nie aanvanklik die verandering besef nie. Dit het begin met 'n tragedie in my persoonlike lewe. Die verlies van 'n langtermyn geliefde het veroorsaak dat ek eensaamheid en vrees ervaar het. God was egter in beheer en Sy tydsberekening was volmaak.

Kort voor lank het ek 'n behoefte gehad om kerk toe te gaan. Meer belangrik: ek het besef dat ek God wou raadpleeg vir 'n antwoord. Hy het my geleidelik begin onderrig deur Sy Woord en my selfs deur middel van drome aangespreek. Hy wou hê ek moet weet hoe baie Hy my lief het. Omdat ek niemand anders gehad het wat in my behoeftes kon help in my gebrokenheid nie, het ek direk na God gegaan vir al my behoeftes.

 

In daardie tyd het ek 'n geselsprogram op die televisie aangebied. Drie-en-'n-half jaar nadat ek die program begin het, het die Here my teruggebring na hom toe. Ek het begin om christelike insetsels en musiekvideos in my program te gebruik. Ek het weer begin kerk toe gaan en my tiende gegee.

In 1991 het die polisie uitgevind van my verlede. Ek was onder die indruk dat ek voldoen het aan die vereistes vir my voorwaardelike vrylating. 'n Fout wat begaan is deur 'n klerk in die hof waar ek gearresteer en skuldig bevind was, het getoon dat my straf nog nie uitgedien was nie. Ek was totaal onbewus van hierdie feit. 'n Geraamte in my kas wat wou uitkom.

Ek het alles waarvoor ek gewerk het in 'n ommesientjie verloor. Die TV-netwerk het my gevra om die program wat ek gemaak en ontwikkel het, te laat vaar. Ek is gevonnis tot drie maande in die gevangenis. In my verwarring het ek vir die Here gevra, "Hoekom?", net soos Job. Hy het my gewys dat Hy 'n doel daarmee het en dat ek Hom moet vertrou. Hy was in beheer en ek moes nie bekommerd wees nie.

Na twee maande in die tronk is ek vrygelaat. Ek was oortuig dat die Here my roep om 'n sendeling te word by Youth with a Mission. Eers was ek traag om hierdie opdrag te gehoorsaam. Sagkens het die Here my egter in daardie rigting gedring en ek het gehoorsaam.

Deur dit alles het die Here my vyf wonderlike jare saam met my ma gegee voordat sy in 1992 oorlede is. Ons was baie na aan mekaar en ek kon haar alles vertel wat in my lewe aangegaan het. Ek kon al die donker geheime van my verlede met haar deel. Ek het verduidelik hoe aggressief ek teenoor my pa gevoel het, hoe ek misbruik is, en die verkeerde lewenswyse waartoe dit gelei het. God het haar gehelp om te verstaan en te aanvaar. Dít was 'n wonderlike bevryding vir my. Die Here was besig om my te verander sodat ek besig was om te word soos Sy bedoeling met my was. Ek het gewens dat die verandering oornag sou plaasvind, maar het besef dat my genesing 'n proses is en dat God besig was met 'n volmaakte werk in my soos ek volhard het in Sy Woord.

Ná my ma se dood het ek Kalifornië verlaat en na Lausanne, Switserland, getrek. Daar het ek by YWAM se Kruis-kulturele Dissippelskapskool aangesluit om opleiding in kruis-kulturele sendingwerk te kry. Ná vyf vrugtevolle jare in Europa het ek deel van die personeel geword en begin om ander op te lei. Die Here het gebroke mense na my toe gestuur - selfs in die sendingorganisasie. Ek was aanvaar deur heteroseksuele mans. Dít het die Here se genesing net verder in my versterk rakende die verwerping wat ek voorheen van my pa gevoel het. Later het ek 'n intensiewe opleidingskursus in berading voltooi in Amsterdam, Holland.

In Januarie 1993, in Lausanne, het God vir my die visie gegee om hoop te bring vir dié wat nie hoop het nie - deur die kerk daarin op te lei, en deur 'n globale netwerk te skep van opleidingspanne. Die idee het my baie opgewonde gemaak. 'n Jaar later het Loren Cunningham, die stigter van YWAM, my 'n teksvers van die Here gegee: In Johannes 14 sê Jesus dat Hy weggaan om 'n plek vir ons voor te berei. Loren het geglo dat die Here 'n spesifieke plek van bediening vir my het. Twee jaar later het God my na Suid-Afrika gebring, en binne die eerste drie maande het die leiers geweet dat my bediening in die Kaap lê.

In Maart 1997 het Roger en Josephine Williamson van TRAILBlazers-bediening in Johannesburg my gevra om die vertakking van hul bediening in die Kaap te organiseer. TRAILBlazers is 'n filiaal van Exodus International. TRAILBlazers se doelstellings stem ooreen met myne, wat poog om kerkleiers en andere op te lei en toe te rus om seksuele- en verhoudingsprobleme aan te spreek, om 'n netwerk van hulpmiddels aan Christelike bedienings beskikbaar te stel en om ondersteuningsgroepe op die been te bring.

In Augustus 1997 is ek tot pastoor ingeseën deur die International Federation of Christian Churches (IFCC). In 1999 het ek 'n raadslid van Exodus International (Europa, Afrika en Midde-Ooste) geword. Die raad se doel is om bedienings vir die seksueel- en verhoudingsgebrokennes te help, koördineer, te ondersteun en te bemoedig. Ons behoefte is om in dié dele van die wêreld uit te reik en om hulp en hoop te gee vir dié wat dit nie het nie, maar dit wil hê!

Die TRAILBlazers-CAPE bediening het al baie ondersteuningsgroepe vir dié wat worstel gestig, asook hul families. Ons is besig om 'n beradingsnetwerk reg deur die Wes-Kaap te stig. In 1999 het ons saam met twee ander bedienings 'n vier-maande opleidingskool vir beraders van verskeie kerkgroepe gehou. Hierdie kerke het nou hul deure begin oopmaak vir ons om opleiding te gee en een-dag seminare in leierskap aan te bied om sódoende dié te help wat hulp wil verleen. Voorheen het party kerkleiers gesê, "maar ons het nie só 'n probleem in ons kerk nie". Vandag besef hulle dat ons, as Jesus se volgelinge, nie meer langer kan terugstaan nie, maar ons moet hulp verleen aan dié wat gebroke is en worstel met die skande en geheimsinnigheid van seksuele gebrokenheid. Herlewing kom na Suid-Afrika en duisendes in ons land is verenig in gebed. Maar dié één vraag bly: "Is ons voorbereid om vertroosting te bied, hulp te verleen en bemoediging te gee aan dié wat kom soek - dié wat alle hoop verloor het?"

As 'n sendeling en 'n internasionale spreker wat volgens geloof lewe, stel ek myself beskikbaar aan enige iemand wat van my ondervinding en kennisgebruik kan maak. Soos meer en meer probleme na vore kom, só raak die behoefte ook groter aan meer mense om dié te help wat desperaat is vir verandering en verandering wíl hê.

My verhaal het nog veel meer om die lyf. Baie wonderwerke het gebeur net in die afgelope jaar. Die belangrikste is egter dat God my gebroke verlede gebruik om die toekoms van andere te genees soos wat ék daagliks my pad van genesing loop. Die kruis van Christus is die enigste pad van herstel vir hulle wat worstel met gebrokenheid. Sy oorwinning is ons verlossing en hoop!

In Christus se liefde, genade en avontuur,

Rev. Wynn Cameron Thompson




 
Contact Wynn & Judi Thompson
P.O. Box 64907, Tucson, 85728-4907, Tel: +1 520 887 0115
email: wcthompson@restoringwholeness.org
www.restoringwholeness.org