Inspirational Stories

Die man in die spieël


by Sinclair "Sy" Rogers


by Sinclair "Sy" Rogers

Verbeel jou - ek is getroud! Skaars drie jaar voor my troudag was ek nog 'n transseksueel. Dit is in elk geval wat my psigiater dit genoem het.

Ek is op sesjarige ouderdom deur 'n vriend van ons gesin gemolesteer. Die molestasie het my erg verward laat voel en 'n erg verdraaide kennis van seksualiteit by my ingeprent.

Toe ek maar net 5 jaar oud was, het ek die twee belangrikste mense in my lewe verloor. Dit was my pa en my ma wat moes help om vir my 'n gesonde en veilige identiteit te skep. My ma is dood in 'n motorongeluk. Ek het by familie gaan woon terwyl my pa op soek was na 'n nuwe lewe. In my gedagtes, as 'n klein seuntjie, het dit by my posgevat dat my pa my in die steek gelaat het.

Toe ek 11 jaar oud was, is my pa weer getroud. Ek en my ouers het 'n bestendige verhouding tot aan die begin van my puberteitsjare gehad, toe my seksualiteit, wat reeds beskadig was, ontwaak het. Ek het 'n tipiese dubbele lewe gelei: bedrywig in die kerk, skool en Boy Scouts. Ek het sokker gespeel en my skool in atletiek en swem verteenwoordig. Maar dit alles het niks daartoe bygedra om my "man genoeg" te maak nie. Een somer is ek as uitruilstudent na Brasilië en het ek agtergekom dat die mense daar meer verdraagsaam teenoor homoseksualiteit as die Amerikaners was - hulle het my makliker aanvaar.

Dit was toe dat ek van hierdie innerlike begeertes begin bewus word het. Ek het vir myself gese: "Ek voel aangetrokke teenoor ander mans en al die ander manne is blykbaar seker daarvan dat ek gay is. Dit is dus seker maar wat ek is."

Kort na my terugkeer na die VSA het ek by die Weermag aangesluit. In Hawaii, waar ek gestasioneer was, het ek volkome by Honolulu se gay gemeenskap ingeskakel. Maar agter die masker van aanvaarding en die belofte van liefde, het ek baie ongelukkige, siniese en radelose mense gesien wat gay was. Paartjies wat beweer het dat hulle verlief is, het dikwels gewonder: "Hoe lank sal dit hierdie keer duur?"

In 1977 was ek klaar met my militere verpligtinge. 'n Paar maande later het ek 'n brief van 'n getroude gay paartjie in Hawaii gekry. Hulle het my vertel dat hulle die homoseksuele lewenswyse laat vaar het. Hulle het gese dat ek self in die Bybel die waarheid oor homoseksualiteit kon lees. "Verraaiers!", het ek gedink.

Om en by hierdie tyd het ek klasse by 'n kleinerige kollege begin bywoon waar ek die slagoffer van die ergste vooroordele geword het. Hoewel daar 'n klompie Christene op die kampus was wat probeer het om na my toe uit te reik, het hulle my gewoonlik oor my sonde aangespreek. Die verwerping wat ek toe ervaar het, was byna erger as wat ek kon verduur. Uiters teneergedruk , het ek my studies na twee semesters opgeskop en die kollege verlaat.

Na hierdie krisis het ek tot die slotsom gekom dat my enigste kans om liefde, aanvaarding en 'n einde aan my innerlike pyn te kry, sou wees om van my mislukte manlike identiteit ontslae te raak. In Januarie 1978 het ek met die psigiatriese evalueringsproses begin. My terapeut het my amptelik gediagnoseer as iemand wat transseksueel is en deur 'n operasie van geslag verander kon word.

'n Ander spesialis het my na die John Hopkins hospitaal in Baltimore, Maryland, verwys - 'n hospitaal wat in daardie dae baie bekend was vir geslagsveranderingoperasies. Ek sou gedurig terapie moes kry en ten minste twee jaar lank as 'n vrou moes lewe voordat ek geopereer kon word. Ek is as 'n goeie kanidaat vir die geslagsverandering beskou.

Daar is 'n lewenswyse wat vir 'n mens reg kan lyk, maar die uiteinde daarvan is die dood (Spreuke 14:12).

Wanneer ek in die spieël gekyk het, het ek gesien dat ek die verpersoonliking van 'n leuen geword het. Uiterlik het ek agtien maande as vrou geleef, en omdat ek baie goed in my rol as vrou aanvaar is, was ek gewild by mense wat gay was, maar tog, ten spyte van al my sukses het ek al hoe ongelukkiger geword. Ek het geleidelik begin besef dat die operasie net my "verpakking" kon verander. Dit sou my nie verander nie. Een aand het die lied "Jesus min my" en ander Sondagskoolliedere in my gedagtes opgekom. Terwyl die woorde van hierdie eenvoudige liedjie in my gedagtes rondgemaal het, het ek onthou dat ek as kind geleer het dat Jesus my ken en liefhet.

Dit was voordat ek homoseksueel geword het. Dit was voordat ek as man misluk het. Kon Jesus my nóú miskien liefhe? Snaaks genoeg het Sy liefde vir my begin saak maak.

Deur my trane het ek ernstig gebid: "O, Here, asseblief wys vir my wat ek moet doen. Ek is so verward. As U nie wil he dat ek van geslag moet verander nie, moet U dit vir my wys. Ek sal doen wat U wil he ek moet doen."

"Julle sal vra na My wil en julle sal dan My wil ken as julle met julle hele hart daarna vra." (Jeremia 29:13)

Drie dae later het ek 'n nuusberig oor die radio gehoor wat my lewe sou verander: John Hopkins het aangekondig dat hulle nie meer geslagsverandering-operasies sou doen nie !

Maar ek was steeds verward. As God nie wou he dat ek 'n vrou moes wees nie, wil Hy tog seker he dat ek 'n man moet wees!

"Maar hoe?" , het ek by God gekla. "Ek weet nie of ek dit kán wees nie." Ek was bang vir die onbekende toekoms as man, maar ten spyte van my vrese, het ek 'n onweerstaanbare gevoel gehad dat God my na Hom toe trek.

Daardie herfs, toe ek verhuis het, het ek op 'n ou verweerde Bybel afgekom en dit in die stilligheid begin lees. Hoewel ek steeds as vrou geleef het, het die Heilige Gees in my lewe gewerk.

Weens die wete dat ek besig was om 'n kruispad in my lewe te nader, het ek my vroulike hormoonpille weggegooi en opgehou om vroueklere te koop. Namate

Kersfees nader gekom het, het ek begin om al my rokke weg te pak. Toe het ek 'n paar stukke mansklere gekoop.

Een aand het ek op die vloer neergeslaan met steekpyne in my bors. Ek kon nie reg asemhaal nie en was besig om my bewussyn te verloor. Vreesbevange het ek tot God geroep en Hom gesmeek om my lewe te spaar. "Moet my asseblief nie so wegneem nie!", het ek by Hom gepleit. "Laat my lewe sodat ek U eers kan leer ken."

Die verskriklike pyn het begin afneem. Verslae het ek my groot behoefte om met God reg te maak, besef. Maar hoe? Ek het my Bybel nader getrek omdat ek geweet het dat ek die antwoord daarin sou kry.

"Kom tog laat ons die saak met mekaar uitmaak, se die Here: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol. As julle gehoorsaam wil wees, sal julle die goeie van die land eet, maar as julle weier en opstandig bly, sal die swaard júlle eet, want dit is die Here wat dit gese het ." (Jesaja 1:18-20)

Met die lees van hierdie teksverse, het ek van verbittering, skuld en skaamte bewus geword. Ek het my mislukking en skuld voor God bely terwyl ek tot Hom geroep het: "Here ek kan nie verander wat ek is nie, maar ek is bereid om verander te word. Ek weet U het die krag. Maak van my die man wat U wil he ek moet wees!"

Terwyl ek my lewe in Sy hande geplaas het, was die bewys van geestelike vernuwing onmiddelik in my sigbaar - die mag van immoraliteit was verbreek! Ek kon en wou die gedrag waaraan ek altyd verslaaf was, teenstaan. Ek was nie seker wat met my gebeur het nie, maar was vol vertroue dat God my sou help om 'n lewe te begin leef wat beslis anders sou wees.

Na my bekering het dit soms maar moeilik gegaan. In my poging om my in 'n gemeenskap gevestig te kry, het ek agtergekom dat daar mense is wat dit moeilik gevind het om hulle met my te vereenselwig. Hoewel ek mansklere gedra het en my hare kortgeknip was, het die geblewe meisie-agtige maniertjies, hoë stemtoon en al die nawerkings van die vroulike hormoonpille gemaak dat baie mense my vir 'n vrou aangesien het. Aan die begin was ek erg vernederd, maar ek was vasbeslote om vir God te lewe.

Ek het ook in seksuele versoekings beland wat my frustreer het. "As ek nog steeds met seksuele versoekings en drange te kampe het, dan het daar mos eintlik niks verander nie." My verkeerde en onrealistiese verwagting was dat God my sommer eensklaps heteroseksueel sou laat word. Terwyl ek die Bybel gelees het, het ek egter uitgevind dat versoeking as deel van die lewe verwag moes word en my identiteit is nie deur my stryd bepaal nie.

Miskien was my grootste ontdekking in daardie stadium dat ek nie meer hoef voor te gee om vry en normaal te wees nie en dat ek nie teen my eie swakhede hoef te stry nie. Ek kon eerlik wees en uitroep: "Ek is swak, Here, help my!" Deur sy genade kon ek deur daardie oorgangstyd gaan.

In 1980 het ek 'n lidmaat van 'n gemeente geword waar ek met ope arms verwelkom is. Vir die eerste keer is ek as 'n man aanvaar en waardeer. Die grootste wonderwerk was dat ek deur ander mans waardeer is, afgesien van seks.

Dit was moeilik en ongemaklik (en partykeer 'n uitdaging) om weer gepaste maniere aan te leer om sodoende by mans aanvaar te word. Namate ek 'n gesonde verhouding met mans aangeknoop het, het homoseksuele begeertes begin verdwyn. Ek het ook agtergekom dat ek al hoe minder in die versoeking gekom het. Op stuk van sake is die versoeking maar net die uitbuiting van 'n werklike behoefte. Daar is uiteindelik in my eie behoeftes voorsien en dit binne 'n gemeenskap wat omgee, my ondersteun en aanvaar en aan my die geleentheid gegee het om van myself rekenskap te eis.

Deur persoonlike groei, wat verder gegroei het as my toespitsing op mans (en my eie behoeftes), het dit vir my moontlik geword om makliker heteroseksueel te word. Ek was hierin laat - maar nie té laat nie! Op hierdie tydstip het ek vir Karin ontmoet. Ons was vriende en medewerkers, maar dit was al. Ek het nietemin sterk aangetrokke gevoel tot haar besonderse persoonlikheid, integriteit en liefde vir God.

Terwyl ons op 'n keer saam gebid het, het die Gees van God aan Karin geopenbaar dat sy my vrou sou word. 'n Jaar later het ek ook van die leiding van God bewus geword. Eers het ek weggeskram van die idee om getroud te wees, omdat innerlike vrese en diep gewortelde gevoelens van ontoereikendheid na vore getree het. Namate ek en Karin 'n openhartige vriendskap gesluit het, het God my verder herstel.

Ons huwelik is nie 'n bewys van my herstel van perversiteit en obsessie nie. Dit is veel eerder een van die pragtigste bewyse van 'n mens se lewe wat deur die herskeppende liefde van Christus herstel is.

Buiten om 'n eggenoot te wees, is dit ook vir my 'n vreugde om 'n pa te wees - nog 'n seën wat bewys dat niks by God onmoontlik is nie.

Een aand terwyl ek my gereedgemaak het om te gaan slaap, het God tot my hart gespreek en gese: "Kyk in die spieël en se My wat jy sien."

Ek het 'n ruk lank gekyk en gese: "Ek sien 'n nuwe skepping!" God het gese: "Ja, maar kyk weer."

Ek het weer gekyk en toe gese:"Ek sien die kind van die Koning - 'n dienskneg van Jesus - en 'n sieraad uit die as van my ou lewe."

Tog het ek geweet dat dit nie die antwoorde was wat Hy wou hoor nie. Wat het die Here probeer om vir my te wys?

Ek het weer in die spieël gekyk.

"Wat sien jy my seun?"

Uiteindelik het ek verstaan. "Ek sien dat die man, die man in die spieël - ek is."



 
Contact Wynn & Judi Thompson
P.O. Box 64907, Tucson, 85728-4907, Tel: +1 520 887 0115
email: wcthompson@restoringwholeness.org
www.restoringwholeness.org