by Sinclair "Sy"
Rogers
Verbeel jou - ek is getroud!
Skaars drie jaar voor my troudag was ek nog 'n transseksueel. Dit is in
elk geval wat my psigiater dit genoem het.
Ek is op sesjarige ouderdom
deur 'n vriend van ons gesin gemolesteer. Die molestasie het my erg verward
laat voel en 'n erg verdraaide kennis van seksualiteit by my ingeprent.
Toe ek maar net 5 jaar
oud was, het ek die twee belangrikste mense in my lewe verloor. Dit was
my pa en my ma wat moes help om vir my 'n gesonde en veilige identiteit
te skep. My ma is dood in 'n motorongeluk. Ek het by familie gaan woon
terwyl my pa op soek was na 'n nuwe lewe. In my gedagtes, as 'n klein
seuntjie, het dit by my posgevat dat my pa my in die steek gelaat het.
Toe ek 11 jaar oud was,
is my pa weer getroud. Ek en my ouers het 'n bestendige verhouding tot
aan die begin van my puberteitsjare gehad, toe my seksualiteit, wat reeds
beskadig was, ontwaak het. Ek het 'n tipiese dubbele lewe gelei: bedrywig
in die kerk, skool en Boy Scouts. Ek het sokker gespeel en my skool in
atletiek en swem verteenwoordig. Maar dit alles het niks daartoe bygedra
om my "man genoeg" te maak nie. Een somer is ek as uitruilstudent
na Brasilië en het ek agtergekom dat die mense daar meer verdraagsaam
teenoor homoseksualiteit as die Amerikaners was - hulle het my makliker
aanvaar.
Dit was toe dat ek van
hierdie innerlike begeertes begin bewus word het. Ek het vir myself gese:
"Ek voel aangetrokke teenoor ander mans en al die ander manne is
blykbaar seker daarvan dat ek gay is. Dit is dus seker maar wat ek is."
Kort na my terugkeer na
die VSA het ek by die Weermag aangesluit. In Hawaii, waar ek gestasioneer
was, het ek volkome by Honolulu se gay gemeenskap ingeskakel. Maar agter
die masker van aanvaarding en die belofte van liefde, het ek baie ongelukkige,
siniese en radelose mense gesien wat gay was. Paartjies wat beweer het
dat hulle verlief is, het dikwels gewonder: "Hoe lank sal dit hierdie
keer duur?"
In 1977 was ek klaar met
my militere verpligtinge. 'n Paar maande later het ek 'n brief van 'n
getroude gay paartjie in Hawaii gekry. Hulle het my vertel dat hulle die
homoseksuele lewenswyse laat vaar het. Hulle het gese dat ek self in die
Bybel die waarheid oor homoseksualiteit kon lees. "Verraaiers!",
het ek gedink.
Om en by hierdie tyd het
ek klasse by 'n kleinerige kollege begin bywoon waar ek die slagoffer
van die ergste vooroordele geword het. Hoewel daar 'n klompie Christene
op die kampus was wat probeer het om na my toe uit te reik, het hulle
my gewoonlik oor my sonde aangespreek. Die verwerping wat ek toe ervaar
het, was byna erger as wat ek kon verduur. Uiters teneergedruk , het ek
my studies na twee semesters opgeskop en die kollege verlaat.
Na hierdie krisis het ek
tot die slotsom gekom dat my enigste kans om liefde, aanvaarding en 'n
einde aan my innerlike pyn te kry, sou wees om van my mislukte manlike
identiteit ontslae te raak. In Januarie 1978 het ek met die psigiatriese
evalueringsproses begin. My terapeut het my amptelik gediagnoseer as iemand
wat transseksueel is en deur 'n operasie van geslag verander kon word.
'n Ander spesialis het
my na die John Hopkins hospitaal in Baltimore, Maryland, verwys - 'n hospitaal
wat in daardie dae baie bekend was vir geslagsveranderingoperasies. Ek
sou gedurig terapie moes kry en ten minste twee jaar lank as 'n vrou moes
lewe voordat ek geopereer kon word. Ek is as 'n goeie kanidaat vir die
geslagsverandering beskou.
Daar is 'n lewenswyse wat
vir 'n mens reg kan lyk, maar die uiteinde daarvan is die dood (Spreuke
14:12).
Wanneer ek in die spieël
gekyk het, het ek gesien dat ek die verpersoonliking van 'n leuen geword
het. Uiterlik het ek agtien maande as vrou geleef, en omdat ek baie goed
in my rol as vrou aanvaar is, was ek gewild by mense wat gay was, maar
tog, ten spyte van al my sukses het ek al hoe ongelukkiger geword. Ek
het geleidelik begin besef dat die operasie net my "verpakking"
kon verander. Dit sou my nie verander nie. Een aand het die lied "Jesus
min my" en ander Sondagskoolliedere in my gedagtes opgekom. Terwyl
die woorde van hierdie eenvoudige liedjie in my gedagtes rondgemaal het,
het ek onthou dat ek as kind geleer het dat Jesus my ken en liefhet.
Dit was voordat ek homoseksueel
geword het. Dit was voordat ek as man misluk het. Kon Jesus my nóú miskien
liefhe? Snaaks genoeg het Sy liefde vir my begin saak maak.
Deur my trane het ek ernstig
gebid: "O, Here, asseblief wys vir my wat ek moet doen. Ek is so
verward. As U nie wil he dat ek van geslag moet verander nie, moet U dit
vir my wys. Ek sal doen wat U wil he ek moet doen."
"Julle sal vra na
My wil en julle sal dan My wil ken as julle met julle hele hart daarna
vra." (Jeremia 29:13)
Drie dae later het ek 'n
nuusberig oor die radio gehoor wat my lewe sou verander: John Hopkins
het aangekondig dat hulle nie meer geslagsverandering-operasies sou doen
nie !
Maar ek was steeds verward.
As God nie wou he dat ek 'n vrou moes wees nie, wil Hy tog seker he dat
ek 'n man moet wees!
"Maar hoe?" ,
het ek by God gekla. "Ek weet nie of ek dit kán wees nie." Ek
was bang vir die onbekende toekoms as man, maar ten spyte van my vrese,
het ek 'n onweerstaanbare gevoel gehad dat God my na Hom toe trek.
Daardie herfs, toe ek verhuis
het, het ek op 'n ou verweerde Bybel afgekom en dit in die stilligheid
begin lees. Hoewel ek steeds as vrou geleef het, het die Heilige Gees
in my lewe gewerk.
Weens die wete dat ek besig
was om 'n kruispad in my lewe te nader, het ek my vroulike hormoonpille
weggegooi en opgehou om vroueklere te koop. Namate
Kersfees nader gekom het,
het ek begin om al my rokke weg te pak. Toe het ek 'n paar stukke mansklere
gekoop.
Een aand het ek op die
vloer neergeslaan met steekpyne in my bors. Ek kon nie reg asemhaal nie
en was besig om my bewussyn te verloor. Vreesbevange het ek tot God geroep
en Hom gesmeek om my lewe te spaar. "Moet my asseblief nie so wegneem
nie!", het ek by Hom gepleit. "Laat my lewe sodat ek U eers
kan leer ken."
Die verskriklike pyn het
begin afneem. Verslae het ek my groot behoefte om met God reg te maak,
besef. Maar hoe? Ek het my Bybel nader getrek omdat ek geweet het dat
ek die antwoord daarin sou kry.
"Kom tog laat ons
die saak met mekaar uitmaak, se die Here: Al was julle skarlakenrooi van
sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal
wit word soos wol. As julle gehoorsaam wil wees, sal julle die goeie van
die land eet, maar as julle weier en opstandig bly, sal die swaard júlle
eet, want dit is die Here wat dit gese het ." (Jesaja 1:18-20)
Met die lees van hierdie
teksverse, het ek van verbittering, skuld en skaamte bewus geword. Ek
het my mislukking en skuld voor God bely terwyl ek tot Hom geroep het:
"Here ek kan nie verander wat ek is nie, maar ek is bereid om verander
te word. Ek weet U het die krag. Maak van my die man wat U wil he ek moet
wees!"
Terwyl ek my lewe in Sy
hande geplaas het, was die bewys van geestelike vernuwing onmiddelik in
my sigbaar - die mag van immoraliteit was verbreek! Ek kon en wou die
gedrag waaraan ek altyd verslaaf was, teenstaan. Ek was nie seker wat
met my gebeur het nie, maar was vol vertroue dat God my sou help om 'n
lewe te begin leef wat beslis anders sou wees.
Na my bekering het dit
soms maar moeilik gegaan. In my poging om my in 'n gemeenskap gevestig
te kry, het ek agtergekom dat daar mense is wat dit moeilik gevind het
om hulle met my te vereenselwig. Hoewel ek mansklere gedra het en my hare
kortgeknip was, het die geblewe meisie-agtige maniertjies, hoë stemtoon
en al die nawerkings van die vroulike hormoonpille gemaak dat baie mense
my vir 'n vrou aangesien het. Aan die begin was ek erg vernederd, maar
ek was vasbeslote om vir God te lewe.
Ek het ook in seksuele
versoekings beland wat my frustreer het. "As ek nog steeds met seksuele
versoekings en drange te kampe het, dan het daar mos eintlik niks verander
nie." My verkeerde en onrealistiese verwagting was dat God my sommer
eensklaps heteroseksueel sou laat word. Terwyl ek die Bybel gelees het,
het ek egter uitgevind dat versoeking as deel van die lewe verwag moes
word en my identiteit is nie deur my stryd bepaal nie.
Miskien was my grootste
ontdekking in daardie stadium dat ek nie meer hoef voor te gee om vry
en normaal te wees nie en dat ek nie teen my eie swakhede hoef te stry
nie. Ek kon eerlik wees en uitroep: "Ek is swak, Here, help my!"
Deur sy genade kon ek deur daardie oorgangstyd gaan.
In 1980 het ek 'n lidmaat
van 'n gemeente geword waar ek met ope arms verwelkom is. Vir die eerste
keer is ek as 'n man aanvaar en waardeer. Die grootste wonderwerk was
dat ek deur ander mans waardeer is, afgesien van seks.
Dit was moeilik en ongemaklik
(en partykeer 'n uitdaging) om weer gepaste maniere aan te leer om sodoende
by mans aanvaar te word. Namate ek 'n gesonde verhouding met mans aangeknoop
het, het homoseksuele begeertes begin verdwyn. Ek het ook agtergekom dat
ek al hoe minder in die versoeking gekom het. Op stuk van sake is die
versoeking maar net die uitbuiting van 'n werklike behoefte. Daar is uiteindelik
in my eie behoeftes voorsien en dit binne 'n gemeenskap wat omgee, my
ondersteun en aanvaar en aan my die geleentheid gegee het om van myself
rekenskap te eis.
Deur persoonlike groei,
wat verder gegroei het as my toespitsing op mans (en my eie behoeftes),
het dit vir my moontlik geword om makliker heteroseksueel te word. Ek
was hierin laat - maar nie té laat nie! Op hierdie tydstip het ek vir
Karin ontmoet. Ons was vriende en medewerkers, maar dit was al. Ek het
nietemin sterk aangetrokke gevoel tot haar besonderse persoonlikheid,
integriteit en liefde vir God.
Terwyl ons op 'n keer saam
gebid het, het die Gees van God aan Karin geopenbaar dat sy my vrou sou
word. 'n Jaar later het ek ook van die leiding van God bewus geword. Eers
het ek weggeskram van die idee om getroud te wees, omdat innerlike vrese
en diep gewortelde gevoelens van ontoereikendheid na vore getree het.
Namate ek en Karin 'n openhartige vriendskap gesluit het, het God my verder
herstel.
Ons huwelik is nie 'n bewys
van my herstel van perversiteit en obsessie nie. Dit is veel eerder een
van die pragtigste bewyse van 'n mens se lewe wat deur die herskeppende
liefde van Christus herstel is.
Buiten om 'n eggenoot te
wees, is dit ook vir my 'n vreugde om 'n pa te wees - nog 'n seën wat
bewys dat niks by God onmoontlik is nie.
Een aand terwyl ek my gereedgemaak
het om te gaan slaap, het God tot my hart gespreek en gese: "Kyk
in die spieël en se My wat jy sien."
Ek het 'n ruk lank gekyk
en gese: "Ek sien 'n nuwe skepping!" God het gese: "Ja,
maar kyk weer."
Ek het weer gekyk en toe
gese:"Ek sien die kind van die Koning - 'n dienskneg van Jesus -
en 'n sieraad uit die as van my ou lewe."
Tog het ek geweet dat dit
nie die antwoorde was wat Hy wou hoor nie. Wat het die Here probeer om
vir my te wys?
Ek het weer in die spieël
gekyk.
"Wat sien jy my seun?"
Uiteindelik het ek verstaan.
"Ek sien dat die man, die man in die spieël - ek is."