Inspirational Stories

Deur Genade Gered


by Roger Williamson


Dit is belangrik dat ek by die begin, begin. Met my geboorte was my moeder ongetroud en God het in Sy groot wysheid 'n wonderlike vroedvrou gestuur (die suster van die man wat eendag my vader sou word), om hierdie kosbare kind in die wereld te help bring en dit wat ongewens was te verander in dit wat welkom was. Sy het my aanneming bewerkstellig en sodoende ook my tante geword.

My ouers het my opgevoed in 'n huis met sekuriteit en vastigheid en my oorlaai met liefde, maar vanaf my vroegste jare het ek geweet dat daar dinge was wat ek nie kon hanteer nie en dat ek anders was. Ek het gevoelens van verwerpingen ontoereikendheid beleef en ek het my onttrek na 'n wereld van fantasie en weelde waar ek ook toneel kon speel soos wat ek wou. Al hierdie dinge het ekgedoen om my identiteit te probeer vind. Skool was 'n nagmerrie en ek sou dikwels eenkant sit en huil omdat ek so anders gevoel het en nie aanklank kon vind by my klasmaats nie. Gedurende hierdie jare het my verhouding met my moeder gegroei en haar beskermende houding het my van my pa geïsoleer. Enige pogings om nader te kom of om 'n band met hom te smee, het gewoonlik in trane geëindig.

My suster het ook 'n groot rol gespeel in my geslagsverwarring, aangesien sy ook die negatiewe in my beklemtoon het. Ek het haar as my beste vriendin beskou, maar dit het net gelei tot verwerping en pyn. Ek het troos gevind in periodieke aanvalle van psigosomatiese siektes waartydens my hele gesin gedwing was om notisie van my te neem en aan my grille toe te gee. Ek moet net noem dat ek in daardie jare nie sonder Christelike invloed was nie. Ek was lid van 'n aktiewe jeuggroep en het dikwels gesing tydens sosiale geleenthede.

Toe ek een en twintig jaar oud geword het, het ek letterlik gehardloop na die GROOT GOUE STAD (Johannesburg), waar ek baie makliker anoniem kon wees as in 'n klein dorpie. Hier het ek hard gewerk en weereens gesoek na my identiteit. Hierdie keer het ek vasgevang geraak in 'n ander fantasiewereld van klubs en partytjies en gou is ek betrek by die gay gemeenskap. My eerste ontmoeting was as gevolg van my naïwiteit, deur te dink dat iemand 'n meisie is, net om die teendeel uit te vind. Dit, tesame met my gevoel vir die dramatiese, het gelei tot 'n verhouding wat geëindig het met 'n traumatiese verwerping. Op hierdie stadium het ek gesweer om almal terug te kry en het my lewe oopgestel vir seks, drank en dwelms. Ek het besef dat ek baie gehad het om te bied en het myself bemark in die gay gemeenskap. Na 'n paar jaar het ek meer en meer ontnugter en verbitterd geraak met my lewe en het besluit om te trou. Ek het geglo dat dit die antwoord was en dat dit ook 'n skans sou wees waaragter ek met my homoseksuele bedrywighede sou kon voortgaan. Ek is toe getroud met 'n vrou met drie kinders en het myself bevind op 'n wipplank van emosies. Uiteindelik het ontrouheid die oorhand gekry en ons is geskei. Die dag waarop ons die besluit geneem het om uitmekaar te gaan, het ek gese: " Daar is 'n beter wereld daarbuite en ek gaan dit ontdek."

Oppad na my werk op daardie pragtige dag, het ek egter besluit om selfmoord te pleeg en het probeer om oor 'n afgrond te ry. 'n Mag het die motor binnegekom en het dit weer teruggedwing op die pad (ongeveer 100 meter van die rand van die afgrond af). Op hierdie stadium het 'n stem in my binneste Psalm 23 begin sing - 'n psalm wat ek dikwels op funksies gesing het. Ek was so vervul met verwondering oor wat gebeur het, dat ek nie op daardie oomblik besef het dat dit God was wat ingegryp het in my lewe en die dood uit my motor verjaag het nie. "Die Here is my Herder, niks sal my ontbreek nie", het 'n lewende woord in my geword.

Kort na hierdie gebeurtenis, het Psalm 23 weer in my gedagtes begin draai. Ek het het besef dat God my roep. My tante wat gehelp het om my in die lewe te bring, was die een wat my na Jesus gelei het. Ek het Jesus aangeneem en het 'n wonderbaarlike verlossing van alle homoseksuele begeertes en aktiwiteite ondervind en selfs gevind dat ek fisies verander het!

Na die verbrokkeling van my huwelik en daarna my redding, was ek verlief op 'n ander man, Jesus. Ek het groot aanvaarding en begrip en volkome vervulling in Hom ervaar en vir jare lank het ek nooit teruggekyk na my verlede nie. Ongelukkig het ek wel 'n kort "vriendskap" met 'n broeder gehad en ons het in sonde verval. Dit het my baie ontstel en gelei tot selfondersoek. In my soeke na 'n antwoord, het ek so baie verwerping in kerke ondervind, nie veel begrip in pastorale kringe ervaar nie en selfs minder begrip by gewone Christene gekry. God se hand het my uit hierdie hele agtergrond gelei, met 'n begeerte en toewyding om myself toe te rus om nie net met my lewe nie, maar ook met die lewens van baie ander wat soos ek was, te werk.

Die grootste verwerping en pyn was toe ek uit die Bybelkollege gesit is en in die pad gesteek is by 'n Christelike maatskappy - en dit op dieselfde dag! My geestelike mentor by die Kollege het aan my gese dat ek van my verstand af was, en dat ek sielkundige hulp nodig gehad het. Die Christen sielkundige by wie ek terapie ontvang het, het my baie gehelp in my genesingsproses en na my sesde sessie by hom, het hy gese dat ek die slagoffer van 'n ernstige geestelike aanslag was.

Met die hele helingsproses het ek oorwinning na oorwinning gesmaak. Ek is toegelaat by die Kollege deur die rektor self. Hy het ook later my vrou in die kerk ingebring op ons huweliksdag. Dit op sigself was 'n wonderlike ondervinding toe God my manlikheid bevestig het deur aan my 'n pragtige vrou te gee wat my bystaan. Hy het ons geseën met 'n oulike en intelligente kind met 'n sterk persoonlikheid. Hy het ons gesin saamgebind met sterk beginsels en oortuigings.

Sy genesende aanraking het my en my vrou in staat gestel om op verskeie maniere mense wat worstel rondom hulle seksualiteit, gesinne, kinders, mans en vrouens te help om heling te vind. God het ons gelei op 'n reis na Engeland, na Courage Ministries, wat ons weer verwys het na Exodus International en Love in Action. Ek het twee Exodus konferensies bygewoon en ek en my vrou het een, saam bygewoon. Ons doel is om opleidingsentrums wat fokus op seksuele gebrokenheid en genesing daarvan, te vestig in die groot stede in Suid-Afrika.

Dit is nou amper dertien jaar vandat Jesus se helingspad met my lewe begin het en ek is steeds verstom as ek sien wat Hy gedoen het en wat Hy nog daagliks besig is om te doen.




 
Contact Wynn & Judi Thompson
P.O. Box 64907, Tucson, 85728-4907, Tel: +1 520 887 0115
email: wcthompson@restoringwholeness.org
www.restoringwholeness.org