Inspirational Stories

MISLUKTE MANLIKHEID GENEES


by Duncan


Daar is 'n verskil tussen homoseksualiteit en om "gay" te wees. Iemand wat worstel met die gevoelens van homoseksualiteit is nie noodwendig "gay" nie. Om homoseksuele gevoelens te hê en dit as sulks te erken is een ding. Om egter jou hele identiteit aan jou seksuele voorkeur te onderwerp, 'n ander. Laasgenoemde is wat dit beteken om "gay" te wees. Dit is die somtotaal van jou hele wese - wie jy is. Dit beïnvloed die wyse waarop jy in jou verhouding tot die gemeenskap staan, omdat tradisie t.o.v. mans en vroue wat trou en kinders kry, alles verteenwoordig wat jy nie is nie. Daarom kom jy in opstand daarteen. As gevolg van my homoseksuele gevoelens, het ek negatief gereageer teenoor mans in magsposisies, omdat hulle my gebrekkige gevoel van manlikheid bedreig het en gevolglik het ek rebels geword in my optrede.

Dit was nie dat ek biseksueel was nie, maar ek het nooit die aversie in vroue ervaar wat dikwels by homoseksuele voorkom nie. Soos u later sal aflei was ek vir 12 jaar onafgebroke slegs tot mans aangetrokke vir beide emosionele en seksuele bevrediging.

Op skool het ek goed presteer behalwe op sportgebied. Ek het minderwaardig gevoel teenoor my vriende, wat almal so selfversekerd was. Ek het die hele groepsmentaliteit wat gepaardgegaan het met rugby en krieket verpes, maar omdat ek in 'n Afrikaanse skool was, was ek geforseer om deel te neem. Ek het stilletjies verkies om elke kreatiewe, makliker opsie wat ek hande op kon lê, te ondersoek. Ek het gelees, gebrei, gehekel, geskilder, geskryf en gesing. Sodoende het ek my atletiese talente heeltemal onderdruk, terwyl dit net so geldig soos my kreatiewe sy was.

My gebrek aan vaderlike aandag as kind, het my met 'n onvolledige beeld van manlikheid agtergelaat. Alles wat my pa verteenwoordig het, was vir my totaal afstootlik. Hy het die tradisionele beeld van 'n man verteenwoordig, wat in die eerste plek aan sy eie belang en gerief gedink het, en daarna aan die van ander, indien ooit. Ek was blootgestel aan my pa se immorele lewenswyse, waarmee hy reeds voor my geboorte begin het. Toe my ouers uiteindelik skei toe ek 9 jaar oud was, was die skade reeds gedoen. Ek het my pa skaars geken en die enigste tyd wat hy ooit aan my erkenning gegee het was wanneer hy met my kon spog. Ek het onder emosies van verwerping en skande gebukkend gegaan.

Dit was dus nie vreemd dat ek aangetrokke gevoel het tot ander mans toe ek as 18-jarige universiteit toe is nie. Die begrip van my eie manlikheid was gebrekkig, daarom het ek dit elders gesoek. Leanne Payne skryf oor homoseksualiteit as 'n kannibalistiese drang. Kannibale verorber ander mense omdat hulle die positiewe eienskappe van ander in hulleself wil opneem. Dus sou 'n kanibaal 'n ander wat besonder dapper of intelligent was, (of besonder manlik in my geval) verorber.

 

Op 18 begin ek toe die soektog na 'n vaderfiguur, wat my deur verskeie langtermynverhoudings, waarvan een vyf jaar geduur het, sou lei. As gevolg van my jeug en energie was ek relatief gewild en toe ek na my universiteitdae 'n sangloopbaan op die verhoog begin volg, eers in die opera en later in musikale teater, was ek uiteindelik vry. Vry om myself te wees. Vry om die liefde wat ek nie by my pa gekry het nie, te soek. Dit is natuurlik onmoontlik vir een gay man om aan 'n ander iets te bied wat hy self nie besit nie, en om van die toenemende spanning wat dit meegebring het ontslae te raak, het ek begin dagga rook. So het 'n siklus ontstaan wat 12 jaar geduur het.

Daar is 'n aspek van my lewe, naamlik die geestelike, wat ek net kortliks na verwys het. My pa was 'n vrymesselaar en as gevolg daaarvan het Satan vrye toegang in ons huis en in ons lewe gehad. Ek het 'n paar ontmoetings met die Here gehad gedurende my skoolloobaan, maar niks blywends nie. Uiteindelik het ek my rug op die Here gedraai, omdat Hy my skynbaar nie wou help met my aangetrokkenheid tot ander mans op universiteit nie.

Toe my vyfjaarlange verhouding beëindig is in 1989, het ek my reeds vir 10 jaar 'n ateïs genoem. Ek het begin krap in okkultisme. In dieselfde tyd moes ek ook die rol van Jesus vertolk in 'n toneelstuk en dit het my aangetrokke laat voel tot die Skrif. Kort daarna het ek myself aan God oorgegee en een oggend het ek gevind dat ek Jesus weer Here kan noem. My lewe het verander.

As ek so terugkyk kan ek sien dat Hy my bekeer het tot 'n ander siening oor vaderskap. Hy het my geleidelik gekonfronteer met die meeste van my probleme wat op my biologiese vader betrekking het. Laasgenoemde se mislukking om my manlikheid te bevestig het ook aan die lig gekom. God het my laat glo dat ek waarde het. Deur aanbidding het Hy my geleidelik georiënteer tot waar ek in die eerste plek op Hom gefokus het.

Ek het 'n fase deurgegaan in my genesingsproses waar ek ongesonde bewondering gehad het vir Godvresende outoritêre mans. God het my ook hiervan verlos. God is in die proses om my weer bewus te maak van my eie waarde, asook om daardie eienskappe wat ek ontken het toe ek 'n Christen geword het, weer as deel van my menswees te erken. Soos die proses vorder ontdek ek ook nuwe fasette soos wat ek Hom gehoorsaam en groei. Elke keer as ek 'n keuse maak vir Hom en teen die gebrokenheid van my verhouding tot die wêreld om my, is ek medeskepper saam met Hom aan die nuwe skepsel.

Ek is 'n getuienis van Sy verbondenheid en liefde, asook die verbondenheid en liefde van die Godvresende mense wat Hy oor my pad laat kom het.




 
Contact Wynn & Judi Thompson
P.O. Box 64907, Tucson, 85728-4907, Tel: +1 520 887 0115
email: wcthompson@restoringwholeness.org
www.restoringwholeness.org