Daar is 'n verskil tussen homoseksualiteit en om "gay" te wees.
Iemand wat worstel met die gevoelens van homoseksualiteit is nie noodwendig
"gay" nie. Om homoseksuele gevoelens te hê en dit as sulks
te erken is een ding. Om egter jou hele identiteit aan jou seksuele voorkeur
te onderwerp, 'n ander. Laasgenoemde is wat dit beteken om "gay"
te wees. Dit is die somtotaal van jou hele wese - wie jy is. Dit beïnvloed
die wyse waarop jy in jou verhouding tot die gemeenskap staan, omdat tradisie
t.o.v. mans en vroue wat trou en kinders kry, alles verteenwoordig wat
jy nie is nie. Daarom kom jy in opstand daarteen. As gevolg van my homoseksuele
gevoelens, het ek negatief gereageer teenoor mans in magsposisies, omdat
hulle my gebrekkige gevoel van manlikheid bedreig het en gevolglik het
ek rebels geword in my optrede.
Dit was nie dat ek biseksueel was nie, maar ek het nooit die aversie
in vroue ervaar wat dikwels by homoseksuele voorkom nie. Soos u later
sal aflei was ek vir 12 jaar onafgebroke slegs tot mans aangetrokke vir
beide emosionele en seksuele bevrediging.
Op skool het ek goed presteer behalwe op sportgebied. Ek het minderwaardig
gevoel teenoor my vriende, wat almal so selfversekerd was. Ek het die
hele groepsmentaliteit wat gepaardgegaan het met rugby en krieket verpes,
maar omdat ek in 'n Afrikaanse skool was, was ek geforseer om deel te
neem. Ek het stilletjies verkies om elke kreatiewe, makliker opsie wat
ek hande op kon lê, te ondersoek. Ek het gelees, gebrei, gehekel,
geskilder, geskryf en gesing. Sodoende het ek my atletiese talente heeltemal
onderdruk, terwyl dit net so geldig soos my kreatiewe sy was.
My gebrek aan vaderlike aandag as kind, het my met 'n onvolledige beeld
van manlikheid agtergelaat. Alles wat my pa verteenwoordig het, was vir
my totaal afstootlik. Hy het die tradisionele beeld van 'n man verteenwoordig,
wat in die eerste plek aan sy eie belang en gerief gedink het, en daarna
aan die van ander, indien ooit. Ek was blootgestel aan my pa se immorele
lewenswyse, waarmee hy reeds voor my geboorte begin het. Toe my ouers
uiteindelik skei toe ek 9 jaar oud was, was die skade reeds gedoen. Ek
het my pa skaars geken en die enigste tyd wat hy ooit aan my erkenning
gegee het was wanneer hy met my kon spog. Ek het onder emosies van verwerping
en skande gebukkend gegaan.
Dit was dus nie vreemd dat ek aangetrokke gevoel het tot ander mans toe
ek as 18-jarige universiteit toe is nie. Die begrip van my eie manlikheid
was gebrekkig, daarom het ek dit elders gesoek. Leanne Payne skryf oor
homoseksualiteit as 'n kannibalistiese drang. Kannibale verorber ander
mense omdat hulle die positiewe eienskappe van ander in hulleself wil
opneem. Dus sou 'n kanibaal 'n ander wat besonder dapper of intelligent
was, (of besonder manlik in my geval) verorber.
Op 18 begin ek toe die soektog na 'n vaderfiguur, wat my deur verskeie
langtermynverhoudings, waarvan een vyf jaar geduur het, sou lei. As gevolg
van my jeug en energie was ek relatief gewild en toe ek na my universiteitdae
'n sangloopbaan op die verhoog begin volg, eers in die opera en later
in musikale teater, was ek uiteindelik vry. Vry om myself te wees. Vry
om die liefde wat ek nie by my pa gekry het nie, te soek. Dit is natuurlik
onmoontlik vir een gay man om aan 'n ander iets te bied wat hy self nie
besit nie, en om van die toenemende spanning wat dit meegebring het ontslae
te raak, het ek begin dagga rook. So het 'n siklus ontstaan wat 12 jaar
geduur het.
Daar is 'n aspek van my lewe, naamlik die geestelike, wat ek net kortliks
na verwys het. My pa was 'n vrymesselaar en as gevolg daaarvan het Satan
vrye toegang in ons huis en in ons lewe gehad. Ek het 'n paar ontmoetings
met die Here gehad gedurende my skoolloobaan, maar niks blywends nie.
Uiteindelik het ek my rug op die Here gedraai, omdat Hy my skynbaar nie
wou help met my aangetrokkenheid tot ander mans op universiteit nie.
Toe my vyfjaarlange verhouding beëindig is in 1989, het ek my reeds
vir 10 jaar 'n ateïs genoem. Ek het begin krap in okkultisme. In
dieselfde tyd moes ek ook die rol van Jesus vertolk in 'n toneelstuk en
dit het my aangetrokke laat voel tot die Skrif. Kort daarna het ek myself
aan God oorgegee en een oggend het ek gevind dat ek Jesus weer Here kan
noem. My lewe het verander.
As ek so terugkyk kan ek sien dat Hy my bekeer het tot 'n ander siening
oor vaderskap. Hy het my geleidelik gekonfronteer met die meeste van my
probleme wat op my biologiese vader betrekking het. Laasgenoemde se mislukking
om my manlikheid te bevestig het ook aan die lig gekom. God het my laat
glo dat ek waarde het. Deur aanbidding het Hy my geleidelik georiënteer
tot waar ek in die eerste plek op Hom gefokus het.
Ek het 'n fase deurgegaan in my genesingsproses waar ek ongesonde bewondering
gehad het vir Godvresende outoritêre mans. God het my ook hiervan
verlos. God is in die proses om my weer bewus te maak van my eie waarde,
asook om daardie eienskappe wat ek ontken het toe ek 'n Christen geword
het, weer as deel van my menswees te erken. Soos die proses vorder ontdek
ek ook nuwe fasette soos wat ek Hom gehoorsaam en groei. Elke keer as
ek 'n keuse maak vir Hom en teen die gebrokenheid van my verhouding tot
die wêreld om my, is ek medeskepper saam met Hom aan die nuwe skepsel.
Ek is 'n getuienis van Sy verbondenheid en liefde, asook die verbondenheid
en liefde van die Godvresende mense wat Hy oor my pad laat kom het.