My konstante soeke na emosionele ondersteuning en sekuriteit het my na
lesbiese verhoudings gedryf. Ek was nog altyd ongemaklik in my verhouding
met mans. Wie het hulle in elk geval nodig?
Gedurende my kinderdae het ek altyd gedroom van 'n hegte vriendskap met
'n ander meisie. Holly, wat naby gewoon het, was vriendelik wanneer ons
tuis saam gespeel het. By die skool was sy egter deel van 'n groep wat
my uitgesluit het, daarom het ek dikwels in trane by die huis gekom omdat
die ander meisies my al weer uitgesluit het.
In my finale skooljaar het ek uiteindelik 'n vriendin gekry wat my spesiaal
laat voel het. Dit het gelyk of Barbara regtig omgee en my behoefte aan
haar aandag was onversadigbaar. My ouers het later ontevrede geraak oor
ons oneindige langafstand telefoongesprekke.
Eendag het 'n paar seuns van ons skool verby my gery en geskree: "Daar
is Diane, die lesbiër, oppad om by Barbara te gaan kuier!" Diep
verleë het ek gebid dat niemand anders die aanmerking gehoor het
nie. Die saadjie van 'n homoseksuele identiteit was egter daardeur in
my hart gesaai. Ek het vir Barbara van die voorval vertel en erken dat
ek fantasieë gehad het oor ons twee wat fisies betrokke raak. Sy
het my nooit direk ingelig oor haar gevoelens daaroor nie, maar soms het
dit gelyk asof sy my begeertes deel.
Na my kollege-opleiding het ek begin werk. Uit die bloute het Laura,
die sekretaresse van my verplegingseenheid, my genader. Daardie dag het
ek opgehou worstel en homoseksualiteit as my ware identiteit aanvaar,
al het ek grootgeword in 'n Christelike gesin en al het ek geleer dat
verhoudings met ander vroue verbode was. In die begin het ek oorheersende
skuldgevoelens gehad, maar aan die ander kant het dit so reg gevoel.
Laura het egter na 'n kort tydjie van vervulling, belangstelling verloor.
Soos wat my eensaamheid en depressie vermeerder het, het ek aan Laura
bly klou, omdat ek geglo het sy was my enigste hoop op emosionele vervulling
en ware vriendskap. Ons verhouding het met rukke en stote vir nog 'n jaar
geduur. In daardie tyd het ek myself vervreem van God en van my familie.
Ek het met mans uitgegaan om my ware gevoelens weg te steek, maar ek het
nie tot hulle aangetrokke gevoel nie. Ek het besluit dat ek regtig lesbies
is en dat ek maar die beste daarvan moes maak.
Toe my en Laura se verhouding beëindig is, wou ek 'n einde aan my
lewe maak. Ek kon nie my verlies verwerk nie. Ek het my ouers vir hulp
gevra, maar hulle het geen begrip vir my pyn gehad nie. Ek het vir terapie
gegaan; ek was desperaat om reg te kom en 'n normale lewe te lei. Ek het
nie geweet hoe om myself aan God oor te gee nie. Die enigste ding wat
my 'n mate van vrede verskaf het, was om myself ten volle oor te gee aan
my werk.
In die volgende jaar het ek ingeskyf vir my M-graad in Maatskaplike werk.
Tydens my internskap het ek bevriend geraak met 'n seksueel normale vrou.
Ek en Patricia het onafskeidbaar geword. My lewe het amper volmaak gevoel,
maar iets was nog afwesig.
Na 'n vriendskap van twee jaar het ek en Patricia geliefdes geword en
my lewe het volmaak gevoel. Ons verhouding het reg gelyk, want dit was
gegrond op vriendskap en emosionele intimiteit. Ons het gesonde kommunikasie
beoefen, goeie vriende gehad, asook sekuriteit in ons beroepe. Uiteindelik
het alles voorspoedig begin lyk!
'n Paar jaar later het my suster, Rebekka, my geskakel om te sê
dat dokters 'n knop in my ma se bors ontdek het. 'n Week daarna het sy
'n mastektomie ondergaan. Haar prognose was sleg. Terwyl ek by haar bed
gesit en huil het, het ek gedink aan al die jare van liefde en nabyheid
van my familie wat ek gemis het, weens my lesbiese verhoudings. Ek het
gedurende my kollegejare van die huis af weggebly omdat my ma nie kon
vrede maak met my alternatiewe lewensstyl nie. Sy het my dikwels genooi
vir middagete om die skeiding tussen ons te probeer regstel, maar ek het
altyd haar uitnodigings van die hand gewys. "Ons het tog niks om
oor te praat nie", het ek gedink, "dus wat is nou eintlik die
doel daarvan?"
Ek het my terugreis van twaalf ure lank gebruik om oor my lewe te besin
en ek het besef dat ek vir te lank van my familie en van my vriende verwyder
was. My ma se gesondheidskrisis, my behoefte om weer ons verhouding te
herstel en my eie introspeksie was alles die motivering om 'n eed te neem
en God te belowe: "As U my ma laat leef sodat ek geestelike wysheid
en insig van haar kan leer, sal ek my lewe aan U gee." Toe ek naby
my huis kom, het ek gevoel dat die Heilige Gees my oortuig dat ek my lewensstyl
moet verander. Golf op golf van vrees, afgryse en woede het oor my gespoel.
Gedurende die daaropeenvolgende maande het ek toegewyd Bybel gelees en
gebid vir die insig oor waarom homoseksualiteit vir God onaanvaarbaar
is. Ek en my ma het mekaar elke dag gebel. Ek het 'n behoefte gehad dat
sy vir my God se ware karakter moes leer, want die God wat ek ek geken
het, was nie liefdevol en sonder voorwaardes nie. Hoekom het Hy van my
verwag om die een verhouding wat vir my vreugde verskaf het, prys te gee?
Die Here was oneindig sagmoedig met my. Hy het my gelei na 'n kerkgemeenskap
waar daar liefde, aanvaarding en vergewing was. Ek en Patricia het met
die proses begin om ons verhouding te verander. Dit was pynlik en soms
het dit gevoel asof ek deur die dal van doodskaduwee gaan, maar ek het
die belofte aan God gemaak en ek sou daarby bly.
Ek het insig in my verlede gekry. Ek het besef dat my homoseksualiteit
vir my 'n manier was waarop ek my onbeantwoorde emosionele behoeftes kon
bevredig. Dit het vergoed vir die verwydering wat ek van my ma en my portuurgroep
ervaar het. My keuse vir 'n alternatiewe lewensstyl was die gevolg van
'n identiteitskrisis en 'n tekort aan selfvertroue en selfaanvaarding.
God het ook 'n begeerte om Hom te volg, op Patricia se hart gelê.
Kort voor lankwas ons albei besig om soekend tot Hom te bid. Ons het besef
dat God nie ons vriendskap tot niet wou maak nie, maar dat HY ons fokus
wou wees.
Vir die volgende vier jaar het ons geworstel, gehuil en gepleit terwyl
ons vasgehou het aan ons oorgawe aan Hom. In plaas daarvan dat die Here
my verhouding met Patricia beëindig het, het hy dit in die regte
perspektief geplaas en dit geseën. Ek het ook gegroei en genesing
gevind in my verhouding met mans. Ek het geweet dat ek in die geloof moes
waag en met Sy hulp, 'n heteroseksuele lewe moes leef noudat ek my ware
seksuele identiteit uitgesorteer het.
'n Vriendskap met 'n manlike medewerker het 'n geweldige bydrae gelewer
tot my genesing. James was ook 'n Christen en ons het mekaar ondersteun
in tye van persoonlike krisis. Vir die eerste keer in my lewe was ek oop
en eerlik met 'n man. Ek en James het saam planne gemaak om ander Christene
te ontmoet en ons het selfs by 'n Christelike vriendskapsklub aangesluit.
Met verloop van tyd het ek besef dat daar 'n patroon in my lewe begin
vestig het. In my verhoudings met mans was die eerste drie maande baie
opwindend. Daarna het ek angstig en vasgekeer begin voel en dan het ek
sommer die verhouding verbreek. Met hierdie besef was ek weer in 'n spiraal
van selftwyfel gedompel. Negatiewe gedagtes soos dat ek nie kan verander
nie en dat ek emosioneel gestremd is, het my gedagtes oorheers. Ek het
hierdie gedagtes met my terapeut bespreek. Hy het aan my die verhaal van
Abraham en Sara vertel en hoe hulle gelag het toe Hy vir hulle gesê
het dat hulle 'n seun sal hê. NIKS IS BY GOD ONMOONTLIK NIE het
die oorheersende belofte geword wat ek vir myself toegeëien het.
(Gen 18:14)
Nadat ek vir reeds drie jaar in die herstelproses was, het ek 'n baie
spesiale man ontmoet. Michael was aantreklik, pret en 'n oortuigde Christen.
Ons het begin uitgaan, maar ek het paniekerig geraak. Michael het begin
vrae vra oor my verlede, maar my antwoorde was vaag en ontwykend...
Soos ons verhouding gegroei het wou ek al hoe meer eerlik met hom wees.
Drie maande nadat ons begin kuier het, het ek hom genooi om saam met my
te kom stap en ek het hom ingelig oor my verlede. Toe my geheim uit was,
het ek van verligting en vrees gehuil.
Na daardie naweek het Michael my gesê dat hy my eerlikheid waardeer
het en dat hy besig was om verlief te raak op my. Hy het ook gesê
dat as ons eerlik was met mekaar, ons enigiets kan hanteer. Omdat hy geweet
het van my oorgawe aan die Here, was hy nie bang dat ek weer sou terugval
in my lesbiese lewensstyl nie.
Die feit dat ek my verlede met Michael gedeel het, was die eerste stap
na 'n vertrouensverhouding. My gevoelens het konstant verander. Tye van
algehele vrede sou vertroebel word deur die vrees vir kwesbaarheid. Michael
het my gedurig aangemoedig om oor my gevoelens te praat.
My diep gevoelens van bewondering en respek vir Michael was heeltemal
anders as die onvolwasse, valse begeertes van my lesbiese verhoudings.
Mettertyd het ek 'n direkte verband begin sien tussen my gewilligheid
om emosioneel te waag en ons groeiende intimiteit. My liefde vir Michael
het goed gevoel, want dit was 'n volwassse liefde wat die gevolg van my
keuse was. Wanneer depressie of angs my oorval het, het ek God gevra om
my met Sy liefde te vul.
Dinge het nie altyd ewe voorspoedig verloop nie. Daar was tye wat ek
getwyfel het of ek toegewyd kan bly aan 'n heteroseksuele verhouding.
Die gedagte aan 'n huwelik het my met vrees gevul. Na etlike maande het
Michael my gevra om met hom te trou. "Wat moet ek sê?"
wou ek weet. Hy het my herinner aan die standaard antwoorde op 'n huweliksaansoek:"Ja,
of nee, of ek het tyd nodig om daaroor na te dink". Ek het laasgenoemde
gekies. Uiteindelik het ek ja gekies, en vir ses maande het die huweliksreëlings
my lewe oorheers. My geloofsvertroue in God het vir my vrede gegee wat
my gedra het deur enige moontlike hindernisse tussen my en die preekstoel.
Ek en Michael is toe getroud. Kort na ons huwelik het my ma se kanker
weer toegeslaan.
My wittebrood saam met Michael was 'n romantiese droom. Die daarop- eenvolgende
maande was egter vir my die toets. Ek het gewonder of ek 'n onomkeerbare
fout gemaak het. Het God 'n grap met my gemaak? Satan was op slinkse wyse
besig met my, juis in my kwesbare areas. Eerder as wat my vrese die oorhand
sou kry, het ek vasgehou aan God se beloftes wat my heteroseksualiteit
bevestig het. Ek het geweet my huwelik was heilig en dat God groter as
my twyfel was.
Michael het konstante begrip en ondersteuning gebied. Hy was 'n wonderlike
gebedsgenoot en man vir my. Sy opregte besorgdheid oor my welsyn was duidelik
in sy gewilligheid om te luister en my die tyd te gun om dinge met God
uit te maak. Hy het nooit moedeloos geraak of aan my eise gestel gedurende
my oorgangstadium nie. Ek en Michael het gedurende ons huweliksjare saam
bly groei. Die diepte van my liefde vir Michael is 'n bewys van God se
genesende krag.
My ma was baie lief vir Michael. Sy droë sin vir humor was vir haar
'n groot bron van vreugde aan die einde van haar lang stryd met terminale
kanker. Ek is so dankbaar teenoor die Here wat my toegelaat het om te
tap uit haar eindelose voorraad van geestelike insig en wysheid tot haar
dood.
As ek terugkyk oor my lewe, prys ek die Here vir sy genesing wat Hy uit
my gebrokenheid laat groei het. Hy het bewys gelewer dat Hy 'n liefdevolle
Vader is. Deur Sy getrouheid is ek gelei tot 'n vervullende verhouding
met Michael: my man, kameraad en beste vriend.