Inspirational Stories

My geheime stryd


by Bob


Ek was jare lank 'n kerklidmaat, ek het Bybelkursusse deurloop en was by korttermyn uitreik-aksies betrokke. Maar in my binneste het daar 'n stryd gewoed wat gedreig het om my te vernietig.

Ek het in 'n beknopte, bedompige dakkamertjie gesit, maar my vinnige hartklop was nie aan die hitte te wyte nie. Ek was besig om 'n slapbandboekie vir tieners oor die feite van die lewe te lees en wat ek in hoofstuk 10 gelees het, was vir my as veertienjarige iets skokkends.

"Is lede van dieselfde geslag vir jou aantreklik?" , het ek gelees en toe 'n beskrywing gekry van iets wat "homoseksualiteit" genoem word.

Ek het gedink dat al die simptome wat genoem is, in my geval waar was. Ek is seker homoseksueel! Dronkgeslaan het ek onmiddelik twee besluite geneeem: Ek sal nooit vir iemand vertel wat ek uitgevind het nie en ek sal sonder ophou bid dat ek op die een of ander wyse hierdie gevoelens sal ontgroei. Om te bid, elke dag Bybel te lees en om elke Sondag Sondagskool toe te gaan, was ingewortelde gewoontes. Hoekom sou ek dan nou hierdie probleem hê?

In plaas van hulp soek, het ek my vrese weggesteek, my aan almal onttrek en op die ou end nie meer kerk toe gegaan nie. Hoekom moes ek my oor iets moeg maak as dit lyk asof God niks met my behoeftes te doen wil hê nie?

In my laat tienerjare, terwyl ek 'n eerstejaarstudent was, het ek boeke oor homseksualiteit gelees en van die groot gay kultuur in die stede gehoor. Baie nuuskierig het ek na boekwinkels vir volwassenes gegaan en tydskrifte oor homoseksualiteit gelees om my ongeoorloofde begeertes te bevredig. Dit was net skuldgevoelens en vrees wat my gekeer het om seksuele verhoudings met ander mans te hê.

Ek het in daardie tyd vir 'n vakansie by my oudste suster gaan kuier. Ek het baie gou werk gekry by die plaaslike saagmeule. Toe sy my nooi om saam met haar kerk toe te gaan het ek dadelik ingestem. Dit was 'n goeie manier om vriende te maak. Die mense was werklik opreg en sommer gou het ek begin om die klavierbegeleiding tydens die eredienste te doen. Toe ek na die vakansie teruggekeer het, was my kwynende geloof weer baie sterk.

Vier studente van 'n Bybelskool het in die kerk kom optree en ek het van die Bybelskool se Bybelgefundeerde plan en goeie musiekprogram gehoor. Ek het aansoek gedoen om daar as student te gaan studeer en ek is aanvaar.

Toe ek daar aankom, het ek met hart en siel begin studeer, want ek het alles baie interessant gevind. Die daaropvolgende drie jaar het ek dit geniet om my in die

klasse en op my eie, in Bybelstudie te verdiep.God het diep in my lewe begin werk. Toe ek daar aangekom het was ek 'n teruggetrokke en ingetoë mens. My deeltydse werk as student was om die ander mansstudente se pos aan hulle te besorg. Ek het elke middag die pos uitgesorteer en dan elkeen gegroet wat sy pos by my op die eerste verdieping kom haal het.

Binne enkele weke het ek geweet wat elke mansstudent se volle naam is, in watter kamer hy bly en wie sy kamermaat is. God het my binne 'n kort tydjie vriendskapsbande met baie mans laat sluit. Hulle omgee en aanvaarding was vir my wonderlik, maar ek het hulle nooit vertel van my stryd teen homoseksuele versoekings nie.

Twee jaar nadat ek my kursus voltooi het het ek een van YWAM se opleidingskole in Duitsland bygewoon. Na 'n ses maande lange program was ek een oggend besig om oor my toekoms te bid. Terwyl ek gebid het, het ek in my geestesoog gesien hoe ek besig was om traktaatjies voor 'n groot gay bymekaarkomplek uit te deel. My moed het in my skoene gesak. "Onder geen omstandighede nie", het ek vir myself gesê. "Ek sal enigiets behalwe dit doen. "

'n Paar jaar later het ek na 'n getuienis geluister wat my lewe verander het. Iemand in die kerk het vertel hoe hy jare lank oorsee gewerk het en baie mense na Christus toe gelei het. "O, Here" het ek in my hart gefluister, "ek wil hê dat my lewe net soos daardie man s'n, iets vir U moet beteken."

Toe het God se uitdaging na my toe gekom: Is jy bereid om die prys te betaal? Ek het geweet dat God wou hê dat ek my deurmekaar identiteit volkome aan hom moes oorgee. Ten spyte van my jarelange kerkbywoning, 'n Bybelskooldiploma en geestelike werk in ander lande, het ek nog steeds teen die verkeerde homoseksuele begeertes gestry... en dit het al hoe erger geword.

Die volgende 24 uur het ek byna niks geëet of geslaap nie, omdat ek soos Jakob met die Here geworstel het. Toe ek uiteindelik te uitgeput was om aan te hou, het ek oorgegee. "Here, U het gewen. Doen met my lewe wat U wil."

Ek het gelees van 'n bediening aan gewese gay mense "Love in Action" genoem word. Ek het aan hulle geskryf en gehoor of ek hulle kon besoek. Ek het toe eers vir my familie en vriende van my geheime stryd vertel. Hulle was geskok, maar hulle het my aangemoedig om voort te gaan met die besoek.

Ek het by "Love in Action" aangekom en wou sommer die he le somer daar deurbring en dan huis toe gaan om weer 'n gewone lewe te begin. Ek het gou in die kantoor as vrywilliger begin werk en die personeel bygestaan met die honderde versoeke om hulp.

Gedurende daardie somer het ek baie verrassende dinge ontdek. Ek het besef dat my eie seksuele stryd my kon help om ander Christene met 'n soortgelyke stryd sinvol by te staan en omdat ek my nooit aan homoseksuele gedrag skuldig gemaak het nie, het ek 'n waardevolle insig gehad oor volharding en geestelike stryd.

My verblyf wat aanvanklik net die somer sou duur, het ses maande geword en uiteindelik was dit 'n jaar. Kort voor lank het ek besef dat my lewe 'n permanente wending geneem het. Ek het begin om "Love in Action" se maandelikse nuusbrief te redigeer, ander artikels te skryf en as spreker by plaaslike seminare op te tree.

 

God was steeds in my lewe aan die werk. Tot my groot verbasing het ek uitgevind dat homoseksualiteit nie eintlik my groot probleem was nie. Die ongeoorloofde homoseksuele begeertes was net 'n uiterlike simptoom van dieper emosionele wonde wat genees moes word. Deur "Love in Action" se ondersteuningsgroep kon ek openlik erken dat my eie stryd bestaan het uit onsekerheid, vrees en afguns op ander mans.

Ek het geen seksuele verhoudings met ander mans gehad nie, maar ek het wel 'n stryd gehad om weerstand te bied teen die fassinering van hierdie onbekende ervaring. Ek het baie ander mense se sondes in hierdie verband gehoor. Om die waarheid te sê, party van hulle afkeurenswaardige bedrywighede het vir my baie aanloklik geklink.

God het my oë oogemaak om te sien watter verskriklike verwoesting sonde in hierdie mans se lewens aangerig het. Sonder dat ons dit geweet het, was party van hulle alreeds HIV - positief.

Dit was ook vir my moeilik om eerlik met ander mense te wees. Ek het die grootste deel van my lewe agter die masker van 'n glimlag geskuil. Sou mense die regte ek liefhê en aanvaar? Dit het my byna 'n jaar geneem om my volgehoue stryd teen pornografie te bely, maar namate ek dit erken het, het ek uitgevind dat al hierdie dinge hulle aantrekkingskrag verloor het. Ek het ook uitgevind dat Jakobus 5:16 waar is. "Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van 'n gelowige het 'n kragtige uitwerking."

Toe ons lede van die groep ons sondes teenoor mekaar bely het en vir mekaar gebid het, het ons meer van God se genesende krag ervaar. Ek het 'n nuwe soort oorwinning behaal deurdat ek bereid was om rekenskap te gee aan ander Christene.

Die onvoorwaardelike liefde van die gemeente waarvan ek 'n lidmaat was, was ook uiters belangrik vir my groei - veral die steun van normale mans, want omdat ek vir "Love in Action" gewerk het, het almal van my verlede geweet. Die mans van die gemeente was nie bang om hulle aanvaarding met 'n glimlag of met 'n vriendelike drukkie te wys nie. My hele lewe lank het ek 'n minder- waardigheidsgevoel teenoor ander mans gehad, maar omdat die mans my as een van hulle aanvaar het, het ek stadigaan soos een van hulle begin voel. Nog 'n bron van my homoseksuele begeertes is afgesny.

Na vyf jaar by "Love in Action" het ek rusteloos begin raak en agtergekom dat God iets meer vir my in gedagte gehad het, maar wat? My houding teenoor die huwelik was stadigaan besig om te verander. Toe ek in die begin by "Love in Action" gekom het, het die huwelik net so onwaarskynlik gelyk soos om Everest te gaan klim. Ek was te bang vir die onbekende en het gevoel dat ek nie opgewasse hiervoor was nie, maar 'n hele paar jaar later moes ek uiteindelik die waarheid erken: ek wou regtig eendag getroud wees.

Een oggend het ek letterlik wakker geskrik. Die wekker langs my bed het gewys dat dit 7 minute oor drie in die oggend was. Toe het ek 'n droombeeld gesien. Ek het gesien hoe ek met 'n rivier langs dryf. Reg voor my het die rivier gevurk en in twee takke verdeel. Toe het die volgende vers in die Bybel baie duidelik by my opgekom: "Vind jou vreugde in die Here en Hy sal jou gee wat jou hart begeer." (Psalm 37:4)

Ek het agtergekom dat God besig was om met my te praat, dat Hy besig was om my by 'n baie belangrike kruispad in my lewe te bring. Die vurk in die rivier was simbolies. Ek het voor twee keuses gestaan: om te trou of om ongetroud te bly. Watter tak van die rivier sou ek volg?

Toe het ek aan Pam gedink, 'n dame wat ook deel geword het van ons kerk se musiekgroep. Ek het haar elke week wanneer ons geoefen het gesien. Ons was net vriende, maar ek het begin agterkom dat God meer in gedagte gehad het vir ons vriendskap.

Die volgende week het ek by my leraar en die hoof van "Love in Action" gaan raad vra. Ek het geweet dat gevoelens en droombeelde wanneer dit by liefdesverhoudings kom, misleidend kan wees. Ek wou nie van God se wil afwyk wat so 'n belangrike aspek van my lewe betref nie. Hulle altwee het my aangemoedig om 'n stap verder in die verhouding te gaan en te sien wat gebeur. Uiteindelik het ek met swetende hande langs Pam gaan sit.

"Ek dink God wil hê dat ons met 'n verhouding moet begin", het ek vir haar gesê en verwag dat sy geskok sou wees. In plaas daarvan het sy geglimlag en dit het byna gelyk asof sy verlig was. Sy het ook agtergekom dat God besig was om ons nader aan mekaar te bring. Om die waarheid te sê, sy het gebid dat God my oor die kop moes slaan om my aandag op die saak te vestig!

Die volgende week terwyl Pam weg was met vakansie, het sy vir my 'n kaartjie gestuur waarop sy self die volgende Bybelvers geskryf het: "Here, ... U het wonders gedoen; dinge wat u al lankal besluit het, het U volgens plan uitgevoer." (Jesaja 25:1) Toe ons later met mekaar gepraat het, het ons 'n verrassende ontdekking gemaak. Pam het in dieselfde maand waarin ek my homoseksuele stryd aan die Here oorgegee het, begin bid vir haar toekomstige man.

Ons het later daardie jaar geraak en is in Augustus die volgende jaar getroud. Gedurende die daaropeenvolgende maande het al my onderdrukte vrese oor die huwelik soos mis voor die son verdwyn. Ek het eerlikwaar nooit vir 'n oomblik daaraan getwyfel dat God besig was om ons altwee afsonderlik te lei nie.

Sedert ons getroud is, het God my vrou deurentyd gebruik om meer genesing en vastigheid in my lewe te bring. Ons huwelik is iets heel besonders en ek kan dit nooit as iets vanselfsprekend aanvaar nie. Ja, selfs in ons huwelik ervaar ek al hoe meer genesing. So leer ek byvoorbeeld gedurig om in my rol as man en hoof van die huis te groei. Soos baie mans wat met homoseksualiteit te doen gehad het, is passiwiteit partykeer 'n groot probleem. Ek haat dit nog steeds om mense te konfronteer en God gee my dus baie geleentheid om in dié opsig te groei (of dit nou is om die moeilike buurman bokant my te vra om die TV om elfuur sagter te stel, of om vir my vrou te sê wat ek regtig van haar vakansievoorstelle dink).

In die jare wat voorlê sal daar nog baie stryd wees, maar wat my betref, is dit heeltemal in die haak. Ek weet dat ek dit nie op my eie kan doen nie en kyk dus net op na Jesus Christus.




 
Contact Wynn & Judi Thompson
P.O. Box 64907, Tucson, 85728-4907, Tel: +1 520 887 0115
email: wcthompson@restoringwholeness.org
www.restoringwholeness.org