Een aand, na 'n rusie met my ouers, het ek in my kamer gelê en
staar na die donker. Uiteindelik het hulle geweet dat ek gay is. Waarheen
kon ek nou gaan? Almal het my gehaat. Die ergste van alles is dat ek myself
gehaat het.
Die koue winterlug was vars en ysig, toe ek my pa na sy motor gevolg
het.
"So wat is jy?" Hy het die woorde afgebyt terwyl hy die deur
toegeslaan het. "Is jy die queen of is dit sy?" Ek het myself
klein probeer maak teen die koue motordeur, my oë vasgenael op die
vloer. My pa het pas uitgevind dat ek gay is.
Ek is gebore op 25 Januarie 1963 as die tweede dogter van 'n alkoholis
vader en emosioneel verwarde moeder. Die dokters was bekommerd oor my
welsyn nog voor my geboorte omdat my ma verslaaf was aan voorgeskrewe
opkikkers en kalmeermiddels. Met my geboorte was my ma midde in 'n senuwee
ineenstorting. Kort na my aankoms het my pa een aand tuis gekom en my
ma se gille gehoor terwyl sy haar kop teen die muur gestamp het. My ma,
nou 'n pragtige Christen, se probleem het gespruit uit haar traumatiese
kinderjare. Haar vader was 'n alkoholis, haar ouers het geskei en sy is
ook as kind gemolesteer.
As kind was ek al nader aan my pa. My ma was altyd daar as ek haar nodig
gehad het, maar sy het nie haar gevoelens gewys nie. Gevolglik het ek
begin om swaar op my pa te steun en het haar uit my lewe begin uitstoot.
Ek onthou aaklige gevoelens van eensaamheid gedurende my laerskooldae.
Ek was bang om skool toe te gaan en my ma alleen te laat, vreesbevange
dat sy nie meer daar sou wees as ek terugkom nie. Ek het gereeld gemaak
of ek siek was om die aaklige werklikheid van die omstandighede by die
skool te vermy. My gevoelens van minderwaardigheid het vermenigvuldig
toe ek hoërskool toe gegaan het. My gewig het verander van 60 tot
78 kilogram en ek het elke duim van my liggaam gehaat. Jong tieners is
nie baie sensitief en taktvol nie en het die bynaam "Vettie"
vir my by die skool gegee. Al te dikwel is ek die vernederende vraag gevra:
"Is jy swanger?"
Ek het gesmag daarna om spesiaal en geliefd te voel deur iemand.
Ek het gewoonlik net een spesiale vriendin gehad gedurende my skooljare,
wat net my gevoelens van eensamheid vererger het en wat ook daartoe gelei
het dat ek in 'n veeleisende vriendskap beland het.
My pa het die pastoor van ons kerk geword toe ek 15 jaar oud was. Soos
wat hy meer tyd in sy studeerkamer spandeer het om te bid en te vas, het
ek my gewend tot 'n vriendin met die naam Judy om die leemte binne-in
my te vul. Met my pa se veranderde posisie was hy ook meer krities teenoor
my.
Ek het niemand gehad by wie ek veilig kon voel nie. Ek was verbitterd
teenoor my ouers en ek het hulle liefde verwerp. Judy se verklaring dat
ek haar beste vriendin was het my in 'n mate getroos. Gedurende Graad
10 het Judy my minares geword. Ek het maniere gevind om ook op weeksaande
uit die huis te gaan en het die kuns van leuens vertel, vervolmaak. My
gewete het my vreeslik gepla, maar die liefde en aanvaarding wat ek by
Judy ervaar het, het dit die moeite werd gemaak. Ek het op haar staat
gemaak vir al my emosionele behoeftes. Ek sou my lewe vir haar afgelê
het, net om haar guns te wen - so groot was my behoefte aan geborgenheid.
Na twee jaar saam met Judy, het ek begin wonder of ek volgens die samelewing
se norme gay was.
As ek nou terugkyk besef ek dat ek jare lank in meisies belanggestel
het. Alhoewel kortstondig, het ek ook 'n hele paar vriendinne gehad vir
wie ek "lief" was, maar ek het nooit my homoseksualiteit gekonfronteer
totdat my wêreld ineengestort het en ek met skaamte en skuldgevoelens
oorweldig is nie.
Dieselfde aand wat my pa 'n liefdesbrief van Judy ontdek het, was ek
by Judy en haar neef, Dick. Op een stadium het Dick laggend by die slaapkamer
ingebars. Judy het my van haar afgegooi en met afkeer in haar stem geskreeu,
"Weg is jy, jy is siek!" Ek kan nog die pyn voel wat ek ervaar
het toe ek besef het dat haar liefde vir my vals was. Sy sou eerder haar
eer red as om haar liefde vir my te verklaar.
Toe het die deurklokkie gelui. Dit was my pa. Daardie aand het ek vir
die eerste keer besef dat ek gay was. Na 'n aand van woedende beskuldigings
van my ouers, vele kwaai woorde, het ek op my bed gelê en die donkerte
ingestaar. Waarheen nou? Ek het myself gehaat en gevoel dat almal my haat.
Ek het geweet dat my ouers alle reg gehad het om my te vermy en dat hulle
ook die volste reg gehad het om my te haat. Skuldgevoel het soos 'n swaar
kombers oor my gehang. Drie dae lank het ek in 'n dwaal deur die lewe
gestrompel. Toe dit aand word op die derde dag, het ek na God geroep vir
hulp.
"Help my asseblief." Dit was al wat ek kon sê. Ek het
so laag gevoel dat ek niks aan Hom kon bied nie. Maar stadig, deur die
duisternis, soos 'n blom wat oopgegaan het, het ek gevoel hoe God met
my praat.
"Gee jou lewe, jou familie en jouself. Ek sal dit honderdvoudig
aan jou teruggee." God se reinigende vrede het oor my wonde gespoel
terwyl ek alles aan Hom oorgegee het.
Ek sou graag wou sê dat my oorgawe aan God die einde van my probleme
beteken het, maar in werklikheid het ek maar die eerste tree in die stadige
proses om van homoseksualiteit verlos te word, geneem.
Gedurende die daaropeenvolgende maande, het ek onbeskryflike skuldgevoel
en skaamte beleef. Ek het my teruggetrek in 'n skulp van verdoeming. Ek
het een vriendin gehad wat my liefgehad het ten spyte van my verlede.
Sue was 'n lid van ons kerk, dus het ek haar baie gesien gedurende die
volgende jaar op skool. Dit was die eerste vriendskap wat ek as 'n Christen
gehad het, met 'n vrou wat nie homoseksueel was nie. Sue se sprankelende
geaardheid het my gehelp om my vreugde te vind in my Christenskap en terselfdetyd
het dit as uitlaatklep gedien vir my gereelde huilbuie. Ek het 'n hele
klomp onderdrukte emosies gehad rakende my ouers. Sue was so 'n vrolike
mens en my depressie het haar oënskynlik nie geraak nie. Ek weet
nou dat God vir Sue op my pad geplaas het om my te help in tye van groot
nood. Ek het 'n tydperk van ontkenning beleef en ek het alle gedagtes
aan my verhouding met Judy uitgewis.
Nadat ek God om hulp gevra het, het ek nie meer geworstel met seksuele
gevoelens teenoor vrouens nie, ook het ek geen seksuele gevoelens teenoor
mans gekoester nie. 'n Mens kan sê dat ek neutraal was.
Toe ek 18 jaar oud was het ek in die huwelik getree met die wonderlikste
man wat ek nog ooit ontmoet het. Tom het by ons kerk aangesluit net nadat
my verhouding met Judy verbrokkel het. Hy het langs ons gewoon, dus het
ek hom baie gesien. Nadat ons mekaar vir ongeveer 'n jaar geken het, het
hy my gevra om met hom te trou. Ek het dadelik ja gesê en ons is
tien maande later getroud. Tom was lank, aantreklik en beskermend. Ek
het met hom getrou omdat ek die sekuriteit wat hy my kon bied, baie nodig
gehad het. As Tom se vrou, het ek gesoek na 'n vaderfiguur. Hy het geweet
van my verlede, maar hy het my nie veroordeel nie.
Ek het nou besef dat alhoewel God my homoseksuele neigings wegggeneem
het, ek steeds opgekropte bitterheid teenoor my pa en ma gekoester het.
Hierdie gevoelens het gemaak dat ek my nie vir my ouers se liefde wou
oopstel nie. Dit sou jare duur voordat ek hierdie probleem kon hanteer.
Tom het my gedurende ons eerste huweliksjare hartstogtelik bemin, maar
hoe hard hy ookal probeer het om my te verseker van sy liefde, het ek
hom nie geglo nie. Ek het my man liefgehad met die liefde van 'n kind
teenoor haar vader.
Na die geboorte van ons eerste kind, Jessica, het dit pynlik duidelik
geword dat ek steeds met die ou probleem gesit het. Ek het geen begeerte
gehad na die intieme sy van die huwelik nie. Ek was koud en het gedurig
Tom se toenadering weggestoot.
In 1987 was ek en Tom 10 jaar getroud en het 3 kinders gehad, maar dinge
was nie pluis nie. Ek was dikwels depressief en het nou 91 kilogram geweeg.
Ons het besluit om by 'n beradingsgroep by ons kerk aan te sluit. Dit
was vir Tom nodig om sy gevoel, dat ek hom in die steek gelaat het, te
lug. My huwelik met Tom het vir my 'n swaar kruis geword om te dra.
Dit het twee jaar van berading geneem om die bitterheid wat ek teenoor
my ouers gekoester het, te erken. Ek het ook besef in hoe 'n mate ek my
van hulle, liefde afgesny het. Maande lank het ek met hierdie emosies
geworstel. My eerste taak was om die pynlike fases van my gay verlede
met Tom te deel.
Met hierdie geheime ontbloot, het verborge gevoelens van my verlede uit
my uitgestroom. Ek het in volle vertroue op Tom gesteun, soos ek ontslae
geraak het van my emosies: woede teenoor Judy en my ouers, skaamte oor
my sondige dade, verleentheid oor die feit dat ek 'n gay dogter van 'n
predikant was, verlange na liefde.
Ek het al hierdie gevoelens aangespreek en met trane daardeur gewerk.
Dit het maande geduur. Meeste van die tyd het ek geworstel om my oop te
stel vir vriendinne en om my nie terug te trek in die skulp van selfbeskerming
nie.
Soos ek al hierdie dinge verwerk het, het ek 'n defnitiewe verandering
in my verhouding met Tom bespeur. Sy toenadering in die verlede het afkeur
gewek, maar nou het ek nuwe gevoelens as 'n vrou ervaar. Daar was moeilike
tye die afgelope paar jaar. Net deur die genade van Christus en Sy verdraagsame
liefde was ek in staat om hierdie tyd te oorleef.
'n Paar maande gelede het ek die bitterheid teenoor my ouers aangespreek.
Ek het 'n reuse tree geneem en aan my ma geskryf. Ek het my pynlike herinneringe,
my woede en my gevoelens wat ek teenoor haar gekoester het verduidelik,
asook my begeerte vir ons as ma en dogter om nader aan mekaar te kom.
God is besig om die skeiding te herstel en ek is baie dankbaar daarvoor.
Ek en my Pa is ook besig om nader aan mekaar te kom.
Vandag is ek nie meer gebind deur my homoseksuele gevoelens nie en is
ek volwaardig vrou wat baie gemaklik voel met my heteroseksualiteit. Ek
ontken nie meer my verlede nie en ek steek dit ook nie meer weg nie. Ek
sien hoe God my swakheid verander in Sy krag. Ere aan God, die Hoogste
en die Almagtige.